KULTUUR
Eisteddfod
Jaarliks kry verskeie leerlinge die geleentheid om aan verskeie eisteddfods deel te neem bv. Tygerbergse Eisteddfod, Kaapstad Eisteddfod. Afrigting vind tydens pouses plaas; andersins na-skool of soos gereël met die verantwoordelike onderwyser.
Koor
Ons koor word afgerig deur me. Ruvé de Necker en begelei deur me. Erika Fox. Die koor tree gereeld op en behaal baie goeie punte by koorfeeste en eisteddfods.
Op 25 Julie 2012 het die koor, toe onder leiding van me. Corrina de Coning en begelei deur Me. Petro Carstens, die Nasionale ATKV-Applous-koorkompetisie (in die afdeling minder ervare Laerskoolkore) op Stellenbosch gewen. Die koor het 87,6% behaal en ook ‘n goue toekenning ontvang. Kore wat deelgeneem het, moes eers op Provinsiale vlak deelneem om vir die eindrondte te kwalifiseer. Die koor het ook ‘n spesiale toekenning ontvang vir die koor wat die voorgeskrewe werk, Seerowers, die beste uitgevoer het.
Ons het ook ‘n Junior koor wat by koorfeeste en eisteddfods asook ons jaarlikse grondslagfase-prysuitdeling optree. Me. Zelda Hugo (gr. 1) is al vir ‘n aantal jare die koorleier.
Vanaf 2022 bied ons en Ls. De Tyger om die beurt ‘n kooraand aan saam met Afrikaanse gaskunstenaars. In 2022 het ons kore opgetree saam met Adam Tas, en in 2023 asook 2024 saam met Die Broers. Dit is nou ‘n jaarlikse instelling en een van die kore se hoogtepunte van die jaar.
Musiekonderrig (privaat)
Me. Ruvé de Necker (0846128787) én Erika Fox (082213 6977) het die musiekonderrig vanaf 2018 oorgeneem. Me. De Necker is ook betrokke by die skool as die senior koor-afrigter terwyl me. Fox beide dié koor asook die junior koor se begeleier is.
Noodhulp
Jaarliks kry ons graad 6-leerlinge die geleentheid om opleiding in noodhulp te kry. Hierna lê hul ‘n eksamen af en die tien met die beste resultate (van al die suksesvolles) dien dan die volgende jaar in die noodhulpspan. Dié leerlinge wat pouses diens doen dra helder bande wat maklik deur die ander leerlinge raakgesien kan word. Hulle word gelei deur me. Elizma Williams en me. Marianke Swart. In 2025 het ons ook Nasorgsentrum-personeellede gehad wat ‘n Vlak 1-noodhulpkursus suksesvol bygewoon het en dus naskool noodgevalle en ligte beserings sal kan hanteer indien nodig.
Revue
Ons het voor Covid elke vier jaar ‘n revue aangebied waar alle klasse en personeellede by betrokke was. Weens Covid moes ons ons 2020 revue kanselleer en kon ons eers weer in 2023 een aanbied. Alle klasse en onderwysers vanaf graad R was betrokke en dit was ‘n groot sukses.
Ons graad R en RR’e (vanaf 2025) bied ook elke jaar tydens hul prysgeleenthede ‘n kort opvoering aan. Hul oefen werklik hard hieraan.
Die toneelgroep Storieskip besoek ons al vir etlike jare teen die einde van die vierde kwartaal. Dit vind plaas in die jare wat ons nie ons revue aanbied nie. Dié opvoerings is altyd genotvol, vol humor asook gelaai met allerlei lewenslesses wat in die storielyn ingewerk is.
Daar is ook soms per geleentheid ander rondreisende toneelgroepe wat by ons optree.
Kommunikasie en Sosiale Media
Die skoolkoerant, Noordwaarts, is in 2019 heeltemal vervang met die d6 BN-Kommunikeerder, en toe in 2021 deur D6-connect wat as toepassing op slimfone asook rekenaars met toegang tot die internet afgelaai kan word. Dit het ons amptelike kommunikasie per briewe, ens. vervang. Begin 2026 vervang D6 die Connect-toepassing met die oorspornklike D6-Communicator-toepassing.
Minimale harde kopië word uitgegee en slegs by spesiale geleenthede. Ons amptelike Bellville-Noord Facebook-blad is ook al ‘n geruime tyd aktief besig om inligting aan die BN-publiek, asook veel wyer, te verskaf. Daar is dan ook die Vriende van Bellville-Noord Facebook-blad waar ouers oa. skoolklere kan koop en verkoop en produkte bemark. Plasings is onderhewig aan goedkeuring om permanent geplaas te word.
Vanaf 2022 kan ons ook op Instagram gevolg word.
Ons poog ook om gereeld beriggies (met foto’s by) in veral die Tygerburger, asook die AWSUM-digitale koerant geplaas te kry. Mnr. Lötter is grootliks hiervoor verantwoordelik. Ons poog om sover moontlik slegs groepsfoto’s te stuur, tensy waar dit leerlinge is wat in die openbaar in sport, kultuur of akademie presteer, of waar ons toestemming vanaf die ouers gekry het.
Video’s en fotobeelde kan ook al etlike jare lank op ons Bellville-Noord Youtube-kanaal besigtig word.
Vasvrakompetisies
Vasvrakompetisies het al deel van Bellville-Noord se skooljaar geword. Talle neem aan hierdie kompetisies deel. Gr. 6-en 7-leerlinge neem reeds langer as 21 jaar lank deel aan die landswye Wêreldkennis Olimpiade.
Vanaf 2018 neem ons graad 6’e gereeld deel aan die ATKV Spelathon. Owen Kretschmer het tot die finale rondte deurgedring. Ons het ook graad 5 en 6’e gehad wat aan die WOW Spelkompetisie deelgeneem het. Die leerlinge gebruik die skool se rekenaars om aan hierdie kompetisie deel te neem.
In 2024 het ons die eerste keer aan die ATKV se Digi-Spel Kompetisie deelgeneem. Ons graad 5, 6 en 7’s is hier betrokke. Ons hoop om voortaan elke jaar hierby in te skakel.
Me. Basson (gr. 6) neem leiding tydens die kompetisies en betrek ander onderwysers soos dit benodig word.
Dans (privaat)
Ons leerlinge kry geleentheid om privaat deel te neem aan dans/fiksheidsport onder leiding van me. Angie Decker. Haar dansklub, Fearless Sport Aerobics, maak gebruik van ons skoolsaal. Sy bied jaarliks ;n vertoning aan waar al haar danser geleentheid kry om voor ‘n gehoor op te tree. Sy kan gekontak word by fearless.sportaero@gmail.com of 071 248 9242.
Fondsinsamelings (vrywillig)
Ons staan bekend as ‘n “omgee-skool” en samel elke jaar fondse (òf kosprodukte, klere, skryfbehoeftes, ens.) in vir verskillende organisasies. Ons ondersteun onder andere die droogtegeteisterde boere, CHOC (kinders met kanker), borskanker-organisasies, diereskuilings, skool vir dowes en nog vele meer. Ons wissel die organisasies wat ons ondersteun jaarliks af, maar probeer werklik help waar ons kan. Ons ondersteun ook die jaarlikse Loslitdag-inisiatief maar ondersteun dan organisasies in ons eie provinsie of onmiddellike omgewing.
CHOC (kinders met kanker) ontvang R 2500 vanaf die leerlingraad.
Kos wat ingesamel is vir behoeftige gesinne.
Koekies vanaf Sutherland om die boere daar te ondersteun.
Ons ondersteun ‘n kleuterskool op Laingsburg
Ons graad 7’s skenk ‘n lappieskombers aan die Bejaardetehuis Ons Tuiste wat hulself gebrei het.
Ons ondersteun die behandeling van borskanker.
Ons het die Nasionale Instituut vir Dowes ook vanjaar ondersteun.
Ons ondersteun Gift of the Givers se uitreik-aksie na KZN na die erge vloede daar.
In 2022 het ons Cheré Botha Spesiale Skool ondersteun met Loslitdag.Danksy ‘n “funky hats”-dag kon ons einde Maart 2024 ‘n bedrag van R 1 483 oorbetaal aan die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) van Suid-Afrika.
Eazy Stitch – Naaldwerk (privaat)
Ons beskik oor die dienste van ‘n privaat naaldwerkklub genaamd Eazystitch wat op Dinsdae aktief is. Kontak Debbie van den Berg vir enige verdere inligting by 076 230 8496 / debbie.vdberg@eazystitch.co.za
Kunsklub (privaat)
Juffrou Annalene Sleigh het ons met haar liefde en kennis van die visuele kuns kom oorrompel.
Alle leerlinge in die skool kry geleentheid om hul eie liefde hiervoor te ontdek, of te ontwikkel, wanneer hul die kunsklas besoek tydens ‘n normale skoolweek. Sy het verder ook ‘n kunsklub geskep (vanaf 2026 is dit ‘n private klub) waar vele van ons talentvolle kunstenaars hulself kan kom uitdruk. Hierdie klub is uiters gewild en die beskikbare spasies word baie gou gevul.
Hier is van beide se kunswerke.


