UIT DIE KANTOOR

Van ons Skoolhoof, Mnr. Jacques Viviers

Dit is vir my ‘n absolute voorreg om op te tree as Laerskool Bellville-Noord se waarnemende Hoof. Dié skool is nie maar net ‘n onderriginstansie waar ek werk nie. Die skool en skoolgemeenskap is my passie.

Graag wil ek voortbou op my voorganger, Mnr. Mostert se uitstekende werksetiek, die positiewe veranderinge wat onder sy vaandel aangebring is en ook sy uitmuntende menseverhoudinge wat hy met die hele skoolgemeenskap gehandhaaf het.

Sterk fokus sal val op die missie en visie van Laerskool Bellville Noord. Die visie dui aan dat ons omgee vir elke kind se unieke potensiaal en dat Laerskool Bellville-Noord ‘n plek is waar leeringe gelukkig is. Die Meerkat as gelukbringer sal daagliks voorgehou word om waardes soos omgee, lojaliteit, selfdissipline en respek by die leerlinge en skoolgemeenskap te versterk.

Saam met die Leierspan en Beheerliggaam sal ons aanpas by die daaglikse veranderende onderwys omgewing om Laerskool Bellville-Noord ten beste te bestuur en ten voordeel van die skoolgemeenskap. Ons sal strewe daarna om positiewe veranderinge aan te bring waarby die hele skoolgemeenskap baat.

Almal wil die voorkeurskool wees, maar dit dien geen doel as ons nie goeie verhoudinge met ons buurskole kan handhaaf nie. Om goeie verhoudinge met alle skole te handhaaf en te verbeter, sal ook baie aandag geniet.

Ek is trots om ‘n Bellville-Noorder te wees waar leerlinge gelukkig is en kaalvoet kan skool toe kom. Waar ons elke kind ken, ons personeel gelukkig is en uitstekende kommunikasie met ons ouers het. Saam as ‘n skoolgemeenskap leef ons die leuse “Ons bou” uit!

Uit die kantoor.

Mnr. Jacques Viviers
Waarnemende Skoolhoof

ONS VISIE

Ons gee om vir elke individu se unieke potensiaal. Ons wil ‘n skool wees waar leerlinge gelukkig is.

‘n Omgee-skool, met ‘n plattelandse hart.

ONS MISSIE

Die personeel van Laerskool Bellville-Noord strewe daarna om waardegedrewe, kwaliteitonderrig te bied en poog ook om terselfdertyd die volgende waardes te bevorder.

 

  • Omgee-ingesteldheid te bou
  • Hardwerkende ingesteldheid na te streef
  • Lojaliteit in ons skool te handhaaf
  • Respek te toon
  • Samewerking te bevorder
  • Selfdissipline te kweek
  • Verdraagsaamheid te vestig

MEER OOR ONSSELF

Bellville-Noord staan bekend as “die omgee-skool met ‘n plattelandse hart” en ons leerlinge mag nog kaalvoet skoolgaan. Vanaf 2025 word ons ook die Bellville-Noord Meerkatte genoem nadat ons die inheemse meerkat as ons gelukbringer aangeneem het.

Bellville-Noord is amptelik geopen in Januarie 1950 met 68 leerlinge en drie onderwysers. Mej. C.M. Lochner was die heel eerste skoolhoof. Die skoollied is in 1966 geskryf deur mev. M. De Vos en deur Rosa Nepgen getoonset. Sedert daardie klein begin het die skool oor die jare gegroei tot ‘n medium-grootte Afrikaanse skool wat geensins terugstaan in sport en op kultuurgebied teen veel groter buurskole nie.

Ons skoolgebou is in 2020 opgeknap deur die Departement Openbare Werke. Hierdie opknapping sluit onder andere die oorskakeling vanaf buis- en gewone ligte na kragbesparende LED-ligte binne en buite die gebou in. Verdere opknapping sluit ook in die vervanging van buite- én saaldeure, nuwe reëlings by die trappe reg om die skool, herseël van die “nuwe” deel se dak, vernuwing van die badkamers en versterking van die ou deel se dakstrukture.

Ons het self deur die jare afdakke tot voordeel van ons leerders opgerig vir warm somersdae, asook reëndae. Dié afdakke word ook deur die OOV gebruik vir fondsinsamelingfunksies soos benodig. Die gange is in 2023 geverf en dele van die gange se teels is vervang. Die netbalbane se oppervlaktes is ook gerestoureer en groot dele van die omheining is vervang. Die krieketkolfblad is ook vervang. In 2025 is die ingangsportaal verfraai en grootliks oorgedoen en vernuwe en die voorkant van die skool se ingangsportaal is geverf.

Ons Groentjiesklub is besig met ‘n langtermyn vergroening- en verfraaiingsaksie van dele van die skool dmv. wynvate met plante in wat strategies geplaas word. Ons plant ook vanaf 2024 spekboompies langs die sportgronde se heining.

‘n Didaktiese klaskamer word sedert 2021 gebruik wat spesiaal ingerig is om veral ons grondslagfase te ondersteun. Ouer leerlinge sal wel ook hierby kan baat indien die individuele omstandighede dit toelaat of noodsaak. Dit is ook beskikbaar vir spraak- en ander terapeute soos benodig. Aan die einde van 2024 het dit geskuif na die Grondslagfase-vleuel wat ook gerieflik nader aan die ingangsportaal is vir ouerafsprake.

Twee goed toegeruste graad R-klasse word deur gekwalifiseerde onderwysers en ‘n assistent behartig. In 2023 is verbouings aan drie klaskamers gedoen om twee groter graad R-klaskamers te skep. Dit sluit ook ekstra stoorruimte in.

Vanaf 2024 het ons ook ‘n gr RR-klas met ‘n gekwalifiseerde onderwyser en hul eie assistent. In 2023 het ons ons vorige tegnologie-asook kunsklasse verander om graad RR te kan huisves. Nuwe stoorkamers, asook bykomende toiletgeriewe is hiervoor gebou en die grondslagfase het ook nuwe stoorkamers gekry. Ons het in alle grade twee klasse per graad. Waar dit finansieël moontlik is maak ons gebruik van bykomende klas-assistente of rondreisende leerkragte as ondersteunende personeel.

Basiese rekenaarklasse word aangebied vir graad 2 en 3 en vanaf graad 4 tot 7 word al meer op kodering gefokus. In 2024 het ons begin met basiese Robotika en vanaf 2025 het ons ‘n nuut ingerigte klaskamer wat spesifiek gebruik sal word vir Robotika asook Tegnologie.

Die rekenaarsentrum beskik oor meer as 30 moderne rekenaars waarop verskeie opvoedkundige programme gelaai is. Alle rekenaars is aan die internet gekoppel, asook dié in die klaskamers. Al die senior klasse asook graad 3-klasse het interaktiewe witborde en meegaande projektors en ons is stelselmatig besig om dit uit te brei na ander klasse ook soos fondse beskikbaar is. Die projektor en klankstelsel in die saal is ook in 2024 opgegradeer.

Ons is baie trots daarop dat ons alumni gereeld verkies word tot leiersposisies, én vele akademies presteer, by hul onderskeie hoërskole.

Bedieningsarea

Bellair, Bloemhof, Blommendal, Blomtuin, Bo-Oakdale, Chrismar , De la Haye, Groenvallei, La Rochelle, Oakdale, Oakglen, Vredenberg. Ons het egter ook leerders uit die groter Brackenfell/Durbanville-area. 

Kampe & Uitstappies

Ons beperk uitstappies heeltemal en probeer eerder persone en/of groepe na die skool bring vir demonstrasies of aanbiedings vir die hele skool, fase of graadgroep.  Storieskip is een van dié groepe wat jaarliks ‘n draai by die skool maak tot vermaak en opvoeding van die hele skool.  Ons het ook al slangvertonings en interessante wetenskaplike eksperimente meegemaak

Mnr. Corné Lötter is klubleier by die Groentjiesklub. Hy word bygestaan en afwisselend vergesel tydens kampe en daguitstappies deur me. Erika Rowbotham (onder-klubleier) asook ‘n hele paar ander dames op die personeel.

Dié buitelugklub vir graad 3 tot 7’s is aktief besig met klubkampe (hoofsaaklik kwartaal 1 en 4) en naweekuitstappies (heeljaar).  Daar is soms geleenthede waar die klublede se ouers hierdie uitstappies kan meemaak.

Snoepie

Ons snoepie staan vanaf 2025 bekend as die Meerkat Kafee. Dit word bestuur deur buite persone op ‘n kontrakbasis.

Ouers kan vooraf kos bestel én per EFT betaal. Leerlinge kry ook soggens kans om voedsame kos vir eerste en/of tweede pouse te bestel.

Die snoepie is van vroegoggend tot omtrent 15:00 in die middae oop.

Kaartfasiliteite is beskikbaar alhoewel kontant steeds aanvaar word. Die spyskaart is beskikbaar op ons d6-toepassing.

SKOOLLIED

Bellville-Noord wanneer ons saam is
wil ons altyd sing van jou
en met trots dra ons jou kleure
aan jou naam is ons getrou.
In ons werk is ons gelukkig,
dis ‘n lus om hier te leer.
‘n Genot om tot jou glorie
op die sportveld te presteer,
en hier bind ons vriendskapsbande
wat ons deur die jare hou.
Bellville-Noord, trou aan ons leuse,
Ja, met vreugde wil ons bou.

Website
Visitors:

112692